+27 720187921 piet@paconsult.co.za

DAG 1: Die “GAAN WOESTYN TOE” uitdaging.


INLEIDING

Elkeen van hierdie 7 dae het ‘n spesiale kleur met ‘n spesiale betekenis.

Vandag se kleur is BRUIN (soos sand / grond)Die uitdaging is dat jy vandag iets wat BRUIN is prominent sal maak in jou omgewing. Dit kan verskeie goed wees – ‘n strepie sand voor jou voordeur, ‘n bruin klip op jou lessenaar, ‘n bruin lappie op die tafel….

Wees kreatief, neem dit af en plaas dit op ons Facebook blad.  Ons sal graag jou inspirasie wil sien. Sal dit nie wonderlik wees as iemand jou vra hoekom dit daar is en jy vir hulle kan vertel daarvan nie…?

IN JESUS SE VOETSPORE …

Jesus het op ‘n stadium ‘woestyn toe’ gegaan om in afsondering te wees.  In daardie tyd het Hy homself sekere luukses ontneem as deel van sy toewyding.  (As jy dit weer wil lees, kyk gerus na Mat 4:1-11)

Jy kan ook die video daaroor kyk as jy wil:

Die gedagte van hierdie 7-dag uitdaging is dat dit veral ‘n tyd van afsondering vir jou sal wees op verskillende vlakke.  Ons moet onthou dat ons as mens een geheel is – gees, siel en liggaam. Iets wat met jou lyf gebeur, het ‘n invloed op jou gemoed en dit het weer ‘n invloed op jou gees.

UITDAGING

Vandag se uitdaging is dat jy iets sal kies waarvan jy jouself vir die volgende 7 dae gaan ontneem.  Die enigste voorwaarde is dat dit iets moet wees waarvan jy BAIE hou.  Dit kan iets fisies wees soos koffie of lekkers of biltong.  Dit kan ook wees dat jy besluit om glad nie TV te kyk nie (veral nie jou gunsteling programme nie) of dat jy glad nie op Facebook gaan werk nie (oeps, behalwe as jy jou fotos wil plaas op ons groep – kry dan maar iemand anders om dit te doen vir jou).

Jesus het by ‘n paar kritieke tye in sy lewe homself so afgesonder.  Veral in sy laaste week voor sy kruisiging. Hy het toe alleen in die tuin van Getsemane gaan bid.  In Mat 26:38 lees ons hoe Jesus bekommerd geraak het.  Wat doen Hy?  Hy gaan eenkant en begin bid.  Hy sonder Homself af.
Kyk gerus hierna: In  Getsemane uit ‘The Passion’

Om betekenis aan hierdie ‘afsondering’ besluit van jou te gee, is dit nodig dat jy dit sal koppel aan gebed.  Maak ‘n punt daarvan om in die loop van die dag (veral as jy lus kry vir daai ‘ding’) met die Here te gesels oor hoekom jy besluit het om te vas van hierdie ‘ding’.  Toets jouself oor ander goed wat in jou lewe is wat jou verhouding met hom kan affekteer of reeds beinvloed het.Dit sou baie goed wees as jy vir hierdie 7 dae vir jou ‘n boekie nader trek waarin jy ‘n bietjie kan notas maak – joernaal skryf oor die goed waaroor jy dink.  In ‘n tyd soos hierdie het die Gees veral geleentheid om met ons te praat, dinge in ons gemoed los te maak en ons belangrike goed te laat raaksien wat nie andersins gebeur nie.  Hou hierdie notaboekie byderhand elke keer as jy jou afsonder in gebed en maak ‘n paar notas van die goed waaroor jy gedink, gebid of besin het. Jy sal verbaas wees oor hoeveel diepte dit gee aan jou belewenisse.

Genoeg gesê.  Geniet die uitdaging(s) en…  Ons hoor graag van jou!

DIE SAAM-WEES UITDAGING

En dank kom vanaand.  Dit sal sinvol wees as jy ‘n afspraak het met iemand – jou huismense, jou vriend/viendin, selfs jou bure – om jou besluit vir afsondering en dit waarvan jy vas vir die week met hulle te deel.  Die lekkerste sal wees as hulle hierdie ervaring met jou kan deel en julle hierdie goed met mekaar kan bespreek.

OP DIE SPYSKAART … 

Die laaste deel van hierdie uitdaging hou verband daarmee dat jou / julle etenstafel iets sal weerspieël van ‘n ‘gebrek aan iets’, iets wat altyd deel van julle ete is wat nie vandag daar is nie.  Vir sommige sal dit vleis wees, ander dalk groente of stysel.  Ons wil onsself herinner dat Jesus ‘n ‘woestyn’ ervaring gehad het.  Dalk sit jy vanaand ‘n spinkaan of twee voor…  haha, nee ek maak sommer ‘n grappie.
Wat dit ookal is, ons sal graag wil weet wat julle gedoen het.  Neem ‘n foto en plaas dit op die Facebook blad en vertel vir ons hoekom en hoe julle dit ervaar het.

VIR DIE JONGSPAN

Die uitdaging vandag vir die jongspan kom neer op ‘n praktiese ervaring van ‘versoeking’ – hulle eie ‘woestyn ervaring’ in die kleine.

Baie van julle ken die ‘delayed gratification’ eksperiment wat gedoen is met kinders en marshmallows.  Hierdie is ‘n soortgelyke oefening.  Elke kind (of gesinslid) word 3 paaseiers gegee vroeg die oggend, reeds voor ontbyt (as jy nie hou van die soetigheid vir jou kind nie, kan jy dit maar vervang met iets anders wat hulle onweerstaanbaar vind).  Die ooreenkoms is dat die paaseiers heeldag aan jou persoon gedra moet word – in jou sak / handsak / skooltas.  Jy kan enige tyd enige van die paaseiers eet.  Die persoon wat ‘n paaseier/s oor het aan die einde van die dag, kry vir elkeen van sy paaseiers wat hy oor het, 2 nuwe paaseiers.  As al 3 paaseiers dus die aand nog oor is, word 3 x 2 nuwes gegee, so dan het daardie persoon 9 paaseiers!  Ons wil sien wie kon dit regkry om die dag deur te gaan sonder om een van die paaseiers te eet.

Dis baie pret om die aand elkeen se stories te hoor oor hoe ‘moeilik’ of ‘maklik’ dit vir hulle was om NIE die eiers te eet nie, wanneer het hulle ingegee en hoekom ens.  As jy dan die toepassing maak op Jesus se woestyn ervaring (versoeking), maar veral ook sy Getsemane ervaring, waar hy moes kies om die pad van die kruisiging te loop, besef elkeen opnuut hoe moeilik dit vir Hom moes gewees het.

 

LUISTER GERUS…

Die lied vandag is spesifiek gekies, omdat dit hierdie paar dae in Jesus se lewe baie mooi verwoord.  Die woorde het baie spesifiek betekenis hier…

Gethsemane – Claire Ryann