+27 720187921 piet@paconsult.co.za

DAG 3: Die “DEK ‘N TAFEL” uitdaging

INLEIDING

Vandag se kleur is BLOU.  Die blou van water.  Die laaste ete wat Jesus saam met sy vriende gehad het is afgeskop met water, waarmee Hy wat Jesus is, hulle elkeen se voete gewas het!  Vandag se BLOU uitdaging is om iets met water te doen, of iets wat BLOU is, waarmee jy vir mense rondom jou kan wys dat hulle op jou vriendskap kan reken.

Vertroue tussen mense het skaars geword.  Ek wil jou uitdaag dat jy vir iemand in jou lewe – dalk jou kind of jou lewensmaat – ‘n ‘teken’ sal gee waaraan hulle kan weet dat jy altyd daar sal wees vir hulle.  Ek wonder of jy kan onthou, maar baie eeu gelede het God dit ook gedoen.  Nadat die aarde sopnat was van water, het Hy ‘n teken gegee en gesê: As jy ooit bang raak en wonder hoe jy ooit ‘n probleem sal oorkom – kyk na die reënboog en weet – Ek is in beheer, jy kan My vertrou!  Ek is altyd daar vir jou.  In hierdie opsig is ons veronderstel om mekaar ook by te staan. Nou is dit jou beurt om vir iemand in jou lewe op ‘n manier te sê: Ek is hier vir jou!  (Hou by blou!)

IN JESUS SE VOETSPORE …

Het jy al ‘n ete in een dag gereël?  Dis wat gebeur het toe Jesus besluit het Hy wil vir oulaas die Paasfees saam met sy vriende en familie te vier.  Dieselfde oggend nog vra Hy dat sy dissipels alles sal gaan regmaak, sodat hulle daardie aand kan saam eet (Mt 26:17 ev…).
Hier is weer ‘n kort video daaroor as jy wil kyk:

Die voetewassing


Die laaste maaltyd

Vandag se uitdaging is iets soortgelyks.

UITDAGING

Dink jy daar is mense wat, as jy hulle vandag kontak, vanaand die Paasfees saam met jou sal kom vier?  Ek wil jou uitdaag om dit te probeer!  Onthou net, dit gaan nie in die eerste plek oor die kos nie, so hou dit eenvoudig (selfs net brood en wyn as dit moet).  Dit gaan natuurlik oor 2 ander goed – wie jy nooi en wat julle doen as julle saam is.

Maar eers iets anders vir jou om oor na te dink.  As jy weet dat hierdie ete jou laaste ete saam met mense sou wees, wie wil jy hê moet dan om jou tafel sit?  Ek wil voorstel dat jy ‘n lysie maak van nie meer as 8 mense nie.  ‘n Mens kan seker al jou familie nooi, al jou vriende en kollegas, maar hierdie keer moet dit persone wees wat jy vir ‘n spesifieke rede sal nooi – elkeen se plek aan jou tafel goed gemotiveer.  Skryf nou ‘n persoonlike uitnodiging vir elkeen waarin jy verduidelik dat jy besig is om na te dink oor mense wat jy om jou tafel sal wil laat sit, om hom/haar uit te nooi daarvoor.  Dis nie belangrik of hulle daar kan kom of nie (jy kan mos selfs ‘n virtuele tafel opstel ook as jy wil), maar dis belangrik om na te dink wie daar moet wees.

Ek vind dit vreemd dat Jesus selfs iemand daar laat sit het wat Hy geweet het op die punt is om Hom te verrraai.  En tog doen Hy dit, want Hy verstaan dat daardie persoon ‘n belangrike skakel is in wat die volgende paar dae moet gebeur.  Ek hoop dit help jou ook om te verstaan watter mense almal in jou lewe ‘n rol speel op die oomblik.

Ons hoor graag van jou!

          

 

 

 

 

DIE SAAM-WEES EN SAAM-EET UITDAGING

Vanaand val hierdie 2 sake saam.

Die ete vanaand behoort ‘n ‘bring-en-eet’ geleentheid te wees.  Elkeen se bydrae tot die ete is simbool daarvan dat julle verbind is om in mekaar se lewens te investeer.  Indien dit net julle as gesin is wat saam eet, behoort elke lid van die gesin hulle eie ‘dis’ of gereg voor te berei.  (Kleuters kan bv vir die poeding sorg deur ‘n kitspoeding / jellie op te klits)..

Gebruik julle eet-geleentheid om vir mekaar te vertel hoekom julle reken julle aan mekaar verbind is en watter rol die ander persoon/persone om die tafel in elkeen se lewe speel en vir mekaar beteken.

Ek kan nie wag om te sien wat almal op ons Facebook gaan kom post nie.  Ek dink dit gaan baie spesiaal wees.

 

VIR DIE JONGSPAN

Image result for feet party

Vandag is tyd vir ‘n VOET-PARTYTJIE.  As julle as gesin die uitdaging doen, neem almal in die gesin deel.  Indien daar net 1 kind is, nooi ‘n maatjie/s oor vir die middag / aand en hou ‘n voet-partytjie.  Hier is ‘n klompie idees.  Julle kan al die idees doen of net sekeres, soos julle verkies.

Voet-Tekening
Elkeen kry die geleentheid om die ander persone se voete te ‘teken’.  Skryf jou naam met ‘n wasbare velt pen op die een voet en teken ‘n prentjie van jou keuse op die ander voet.  Jy kan enige plek op die voet of enkel teken, maar glad nie hoër as die enkel nie. (Neem ‘n foto van al die voete bymekaar en sit dit op ons Facebook blad).

Going Toe-to-Toe Stoei Wedstryd
Hierdie speletjie herinner aan arm-druk.  2 Persone sit lang been teenoor mekaar met een voet se groottoon teen die opponent se groottoon.  Kruis die tone en kyk wie kan die ander se voet plat druk teen die grond.  Ruil maats en hou uitdunne tot ‘n wenner aangewys is.

Letter Anagram
Die leier skryf ‘n woord / woorde onder die voete van die deelnemers wat langs mekaar sit, een letter per voet.  Die letters is natuurlik geskommel.  Die deelnemers kan daarna onder hulle voete kyk en moet dan die letters in volgorde rangskik om die woord te vorm, sonder om van sitplek te verander.  ‘n Goeie woord is bv ‘voete was’

Voetafdruk
Hier benodig jy aangemaakte poeier verf / waterverf.  Ook ‘n wit lap / ou wit hemp.  Sit gekleurde verf in borde / houers waarin elke deelnemer hulle voete trap of waar die deelnemers mekaar se voete onder verf.  Elkeen maak dan ‘n afdruk van die geverfde voet/e op die stuk lap.  Hierdie lap kan natuurlik later in die week weer as tafeldoek of ander toepassing gebruik word.  (Onthou die fotos!)

Voetwassing
Bring ‘n bak water en ‘n ou handdoek uit. Elkeen van die deelnemers kry ‘n kans om mekaar se voete te was.  Nou is dit ook die geleentheid om die betekenis van Jesus se handeling by die nagmaal te verduidelik.  Dit was vermoedelik juis toe die dissipels gestry het oor wie eintlik die belangrikste is en langs Jesus moet sit, dat Hy dit begin doen het om te wys dat ons mekaar moet dien.

LUISTER GERUS…

Terwyl julle eet, luister gerus na Lieze Stassen se liedjie ‘Kumbaya’. Ek dink dit het besondere betekenis hier.