+27 720187921 piet@paconsult.co.za

DAG 2: Die “SWAAI ‘N PALMTAK” uitdaging

INLEIDING

Vandag se kleur is GROEN.  Jy kan seker dink hoekom.. Ons dink vandag veral aan Jesus wat onder wuifende palmtakke Jerusalem ingekom het.  Ons GROEN uitdaging is vandag dat jy iemand wat vir jou al iets in jou lewe beteken het, iets GROEN sal gee.

Dit kan ‘n groen bos blomme of mooi rangskikking wees, sommer net lekker groentes uit jou eie tuin of dalk selfs groen tee (dis nou as hulle daarvan sal hou).  Die beginsel wat ons wil toepas is om iemand anders te EER.  Ons is maklik om te kritiseer, ervaar soms dat ander mense ons sleg sê of is sommer net geirriteerd met mense om ons.  Jesus se intog in Jerusalem herinner ons om ander mense om ons te eer en te waardeer vir wat hulle vir ons beteken.  Dit kan jou kind wees wat jou met skottelgoed gehelp het, die bediende wat elke dag jou huis so mooi skoon maak of jou baas wat jou komplimenteer het met jou goeie werk.  Jy is uitgedaag om vir iemand anders eer te betoon met iets GROEN.

IN JESUS SE VOETSPORE …

Ons dink vandag veral aan Jesus wat onder groot toejuiging Jerusalem se strate ingeneem het soos ‘n generaal wat triomfantelik teruggekom het van ‘n suksesvolle veldslag.  Blare en blomme en kledingstukke is uit eerbied, bewondering en respek voor die donkie op die pad neergesit en in tipies oosterse tradisie is palmtakke gebruik om oor die pad te swaai soos met adelikes en aansienlike leiers gedoen is.  En ja, hulle het groot lawaai gemaak in die strate – gesing en geskree – Hoera vir die Seun van Dawid! …Laat die hemel van ons vrolike hoera’s weergalm!  (Mt 21:9 DB).

Jy kan ook die video daaroor kyk as jy wil:

Hoeveel bewondering of respek het jy vir Jesus?  In ons dag is daar min leiers wat ons regtig voor bewondering het en wat ons graag sal wil vereer.  As jy daardie dag in Jerusalem se strate kon wees en weet wat jy nou weet van Jesus, hoe sou jy reageer het?  Sou jy jou palmtak gaan swaai het of sou jy maar net nuuskierig eenkant gestaan het?  Is Jesus dit vir jou werd om (as ek ‘n tipiese jongmens uitdrukking kan gebruik) mal te gaan oor Hom, of is Hy maar net nog ‘n gewone goeie mens vir jou?

UITDAGING

Kom ons dink saam hoe kan ons op ‘n gepaste manier ‘eer aan Jesus’ bewys in ons dag.  Ek sal baie graag wil hoor hoe jy dink ons dit vandag nog kan doen?  Dit sal seker insluit dat ons sensitief sal wees vir maniere waarop ons sy ‘aansien’ of ‘eer’ afbreek en minag – ek dink nou maar byvoorbeeld aan gevalle waar ons sy naam as ‘n uitroep of stopwoord  gebruik.  Maar ek is seker julle sal met baie goeie idees na vore kan kom om ‘jou palmtak te swaai’ vir Jesus!

DIE SAAM-WEES UITDAGING

Die saam-wees gedeelte van hierdie uitdaging bestaan uit ‘n musiek-aand.  Elkeen in die gesin / vriendekring bring ‘n liedjie of twee saam wat julle saam gaan luister / sing.  Dit moet jou gunsteling lofprysing lied/ere wees waarmee jy graag eer aan Jesus bring.

OP DIE SPYSKAART … 

Die laaste deel van hierdie uitdaging gaan weer oor KOS!  En hierdie keer KONINGSKOS.  Elkeen wat ‘n liedjie bring, bring iets saam wat hulle beskou as ‘koningskos’, want hierdie aand vier ons saam dat JESUS KONING IS!
KONINGSKOS in die middeooste is iets soos dadels en olywe.  In ons kultuur (dalk net sekeres van ons) is dit dalk iets soos Ferrero Rocher sjokolade…
Of dalk het jy iets anders in gedagte.. Onthou om ‘n foto daarvan te neem en plaas dit op die Facebook blad en vertel ons alles oor julle aand.

Ons hoor graag van jou!

DIE SIMBOLIEK VAN PALMTAKKE

Image result for palm leaves

Palmtakke verteenwoordig Jesus se aankoms in Jerusalem op die eerste Palm Sondag toe mense Hom verwelkom het deur palmtakke te waai. Dit was ‘n Romeinse gewoonte om palmtakke te waai wanneer jy ‘n koninklike verwelkom. Vandag gebruik Christene steeds palmtakke in parades, veral op Palm Sondag

VIR DIE JONGSPAN

Hier is vir julle ‘n heerlike uitdaging!  Vou ‘n kruis uit ‘n palm blaar!  Kyk na die video hier onder en kyk of jy dit kan regkry.
Ek is seker iemand sal dit baie waardeer as jy dit vir hulle as jou “groen geskenkie” geskenkie gee.
Plaas ook sommer ‘n foto van jou kruisie op ons Faceboek blad.


Kry die instruksies hier

NOG ‘N AKTIWITEIT VIR DIE JONGSPAN

Kleur hierdie prentjie in en sit dit op ons Facebook blad! 

LUISTER GERUS…

Die lied vandag gaan spesifiek vandag oor Jesus, die KONING van ons lewens.  Die woorde het baie spesifiek betekenis hier…

King of My Heart  – Steffany Gretzinger, Jeremy Riddle, & Christine