+27 720187921 piet@paconsult.co.za

DAG 4: Die “WAKKER BLY” uitdaging


 

INLEIDING

Vandag se kleur is GEEL.    Die kleur GEEL in die Bybel word veral geassosieer met vuur en lig, en vuur is die simbool van die proses van suiwering.  GEEL is een van die kleure wat van die begin van Jesus se aardse lewe ‘n rol gespeel het. Onthou jy nog die geskenke wat Hy van die wyse manne gekry het – oa. GOUD, die ‘intensiewe vorm’ van GEEL, die kleur van ‘royalty’.

GEEL is vandag bedoel om jou te herrinner aan die rede waarom Jesus hierdie week moes deurgaan: Hy moes deur die vuur gaan om jou te kan skoon kry, maar nie net skoon nie.   Hy het jou status, jou afkoms, ook kom herstel en jou weer Koningskind kom maak. Ek weet nie of jy iets GEEL of GOUD in jou klerekas het nie, maar dra iets met jou saam (al is dit iets in jou sak) wat jou hierdie dag daaraan kan herinner dat Jesus bedoel het dat jy ‘gesuiwer’, skoon gemaak moet wees.

IN JESUS SE VOETSPORE …

Kom ek stel jou gou gerus. Die ‘WAKKER BLY’ uitdaging vandag het nie daarmee te doen dat jy vanaand laat moet gaan slaap of heeldag wakker moet bly nie.  Dit het wel te doen daarmee om by Jesus te staan, kom wat wil…  Jesus se hele pad van Getsemane tot by sy opstanding uit die tuingraf sou eintlik een wees van afsondering en alleen wees.  Dit was nie ‘n lekker vooruitsig nie.  Luister na sy woorde in Mt 26:31: ‘Nog vannag gaan julle almal die rug op my draai en maak of julle My nie ken nie…’.  As jou vriende of die een naaste aan jou al die rug op jou gedraai het of jou alleen gelos het toe jy deur ‘n krisis gegaan het, sal jy iets verstaan van wat Jesus hier deurgaan.  Petrus het natuurlik heftig hierop reageer: ‘Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit NOOIT doen nie’.  En ons weet wat was die uiteinde van hierdie bravado.

As daar iets is wat ons nie altyd besef nie, is dit dat ons steeds gevaar loop om ons rug op God te draai en ons eie ding te doen – gaan slaap, kuier by die braaivleisvuur, vermy enige kontak net Hom.

Kyk gerus na die gebeure toe Petrus sy onderneming moes gestand doen:

UITDAGING

Die uitdaging vandag is dat jy sal dink oor wat dit vir jou sal beteken as jy die ‘commitment’ van Petrus wil maak en daarby hou.  Wat sal dit van jou vra om saam met Jesus ‘deur te druk’?   Die uitdaging gaan daaroor dat ons sal nadink oor wat dit vir ONS beteken om Jesus te volg.  Vergelyk die kontras van Petrus wat in moeilike omstandighede sy lojaliteit aan Jesus opgegee het.  Die dissipels kon nie gee wat dit van hulle gevra het ‘om saam met Jesus wakker te bly’ nie.   Aan die ander kant is Jesus wat sy verbintenis ter wille van ons tot die bitter einde deurgesien het.

Ek is baie nuuskierig om te sien wat die GEEL of GOUD ding was wat jy saamgedra het vandag.  Sit iets op Faceboek of Instagram, ek ‘dare’ jou!

Ons hoor graag van jou!

DIE SAAM-WEES UITDAGING

Hierdie uitdaging vandag is baie persoonlik.

Die wending in Petrus se lewe kom eers bietjie later toe Petrus een dag in totale depressie op die strand sit en Jesus daar aankom en vir hom bevestig dat Hy wat Jesus is, vir Petrus steeds as een van sy vriende beskou.

Miskien is daar iemand wat jy na toe moet teruggaan en jou verhouding met hom/haar gaan herstel.  Dalk is dit nie dat JY dink alles is opgemors nie, maar daardie persoon dink so en het nodig om te hoor dat jy sê dit is OK.  Dit is dalk nou die tyd om ‘n Whatsapp te stuur of ‘n oproep te maak.  Jy sal weet.  So moet jy self dalk deur die vuur stap, sodat jy of iemand anders die ‘suiwering’ kan ervaar waarna al so lankal gesoek is.

OP DIE SPYSKAART … 

Ek bly verstom oor hoe Jesus eet-geleenthede lewensveranderende geleenthede gemaak het.  Dink maar aan die ete saam met Saggeus die tollenaar in sy eie huis en die visbraai wat Hy saam met Petrus op die strand gehou het.  Miskien moet jy so ‘n koffie / ontbyt saam met iemand gaan geniet wat jou ‘inspraak’ in hulle lewe nodig het.

Die uitdaging is vandag om ‘n rangskikking van GEEL en GOUD op die tafel te plaas. Om die ete by kerslig te doen sal ook baie gepas wees. As jy daarvoor kans sien, kan jy selfs geel en goud in die ete self inwerk.

VIR DIE JONGSPAN

Ons gaan ‘n KERS-PARTYJIE hou.  Jy gaan minstens 10-20 partytjie kersies en vuurhoutjies nodig hê.  Ons kleur is mos GEEL vandag, die kleur wat lig en vuur simboliseer.  Ons gaan dan ‘n paar speletjies speel met kerse.

KERS-RAAI
Gooi ‘n klomp kerse in ‘n plastiek sak. As jy dit meer interessant wil maak kan jy ‘n klompie vuurhoutjies ook daarby ingooi.  Elkeen kry 10 sekondes om sy hand in die sak te druk en dan moet hulle raai hoeveel kerse (en vuurhoutjies) is in die sak. Elkeen skryf dan die getal wat hulle raai langs hulle naam neer.   Die een naaste aan die regte getal is die wenner.  Die wenner moet natuurlik ‘n paaseier kry.

STEEK MY AAN
Maak nagenoeg 10 kersies in ‘n ry staan (jy kan hulle sommer in sand indruk in ‘n groot bak).  Elkeen kry nou ‘n vuurhoutjie. Die kompetisie is om te kyk hoeveel kersies jy in ‘n sekere tyd (bv 30 sekondes) kan aansteek.  Die wenner wat die meeste met een vuurhoutjie aangesteek het, kry weer ‘n paaseier.

KERS-RESIES
Maak hier spanne van 2 persone (as daar genoeg persone is).  Hulle mag saam beweeg en mekaar help.  Maak ‘n kersie staan in ‘n piering – een vir elke deelnemer.  Bepaal ‘n roete wat die deelnemers moet aflê (verkieslik met ‘n paar draaie in) om te bepaal wie kan die vinnigste met die kers in die piering beweeg.  Hierdie aktiwiteit moet liefs buite op die gras of plaveisel gedoen word. As die kers omval of uitdoof, moet die kers eers weer staande gemaak word of aangesteek word in die piering, voor die deelnemer mag aan beweeg.
Deelnemers kan gelukkig nie te vining beweeg nie, anders sal die kers dood waai.  Gee gerus weer ‘n prys vir die wenners.

VERDUIDELIK
Op hierdie stadium kan jy vir die kinders iets verduidelik van wat dit beteken om ‘n wedren of kompetisie KLAAR te maak, asook wat dit beteken om SAAM te staan.  Pas hierdie toe op vandag se uitdaging wat te doen het met Jesus wat end-uit vir ons die pad geloop het om ons te help om weer in die regte verhouding met God te kan kom.  Herinner hulle ook aan Petrus wat nie by Jesus gestaan het nie, maar hoedat Jesus hom vergewe het en wat dit vir ons beteken.

LUISTER GERUS…

Hierdie lied het spesifiek betrekking op die ervaring van Petrus en elkeen wat al Jesus se vergifnis ervaar het…

Passion – Forgiven ft. Crowder