+27 720187921 piet@paconsult.co.za

DAG 5: Die “GEBREEKTE EIER” uitdaging


INLEIDING

Vandag se kleur is ROOI, want vandag is die dag van die kruisiging.  Ons daag jou uit om iets ROOI prominent in jou omgewing op te sit – ‘n rooi strik om die boom voor jou huis, ‘n ROOI strik in jou hare, dalk ‘n ROOI vlaggie aan jou kar of ‘n ROOI  kruis op jou lessenaar.

Wees gereed om vir al die nuuskieriges ‘n verduideliking te kan gee oor hoekom jy hierdie ‘vreemde’ gedrag openbaar.

Die uitdaging vandag gaan oor EIERS!  Ons wil jou uitdaag om vandag ‘n paar eiers te neem en die inhoud daarvan uit te blaas.  Ons ondervinding is, wat die beste werk, is om met ‘n speld / naald / spyker ‘n gaatjie weerskante op die punte van ‘n eier te maak (verruim die gaatjie maar dat daar darem iets kan uitkom).  Die wit en geel van die eier moet mooi eenkant gehou word, want dit is deel van die ‘brunch’ wat julle vandag gaan eet – dit is mos ‘n vakansiedag!

IN JESUS SE VOETSPORE …

Kom ek verduidelik eers waar kom die eier-idee vandaan.  As daar een ding is wat die Paasfees boodskap baie goed saamvat met ‘n rykdom van betekenisse (waarby jy self seker nog ‘n paar idees op Faceboek kan byvoeg) is dit ‘n EIER.  In die eerste plek bestaan die eier uit 3 dele – dop, wit en geel – ‘n baie goeie metafoor om die 3-eenheid van God aan kinders mee te verduidelik.  Om die waarde van die eier te kan benut (of jy hom kook of bak), moet jy hom breek.  Die breek van die eier het veral simboliek in die kruisiging van Jesus.  Hier is nou geleentheid vir jou om met kinders of vriende hierdie simboliek verder te bespreek.
Die kruisiging is ‘n grusame gebeurtenis en ‘n mens wil nie graag vir kleiner kinders aan die geweld daarvan blootstel nie.
Hier is ‘n weergawe wat minder geweld vertoon en wat kinders kan saam kyk:

Hier is ‘n skakel wat kom uit die Passion fliek, maar met ‘n lied wat in die agtergrond speel (NIE VIR KLEIN KINDERS):

UITDAGING

Hierdie uitdaging is vir almal bedoel – volwassenes, tieners en jongspan!  Ons kinders wat reeds getroud is neem nog steeds net so geesdriftig deel aan hierdie uitdaging.  (Ons probleem is dat ons een skoondogter kuns gestudeer het, so sy het ‘n (on)natuurlike voorsprong).
Die eiers wat uitgeblaas is, wat nou net ‘n leë dop is, moet nou geverf word.  Ons gebruik gewoonlik sommer waterverf of poeier verf. Kry net die primere kleure saam met wit en swart en dan kan julle lekker speel.  Elkeen in die gesin (of groep) moet nou ‘n prentjie op die eier verf.  Die prentjie beeld iets uit oor wat Paasfees vir jou beteken.  Daar is geen reëls nie, behalwe dat elkeen, as almal klaar is, sy prentjie aan die res moet verduidelik.  Wat is die betekenis van die simboliek / uitbeelding wat jy op jou eier geverf het?  Ons neem elke jaar hierdie verduidelikings af (sommer op ons fone), want daar kom AMAZING goed uit – veral van die kinders.  En dit kan julle natuurlik op ons Facebook blad kom sit dat ons almal daarin kan deel.
(Hier is ‘n paar fotos van ons gesin se eier-verf van vorige jare)
   

Ons het nog ‘n ekstra ‘twist’ wat ons aan hierdie geleentheid gee wat julle kan oorweeg.  Die eerste mense wat na die verf-geleentheid by ons kom kuier, tree as beoordelaars van die eiers op en elkeen vertel weer hulle storie.  Dis dikwels nie die mooiste eier wat wen nie, maar die interessantste storie. (Dit vermenigvuldig natuurlik ook die geleentheid om te gesels oor wat Paasfees vir elkeen beteken).

‘n Ander baie oulike idee vir DIE JONGSPAN is om die eiers wat uitgeblaas is te vul met gekleurde verf (gebruik ‘n inspuiting of enige bottel met ‘n klein tuit.  Spuit verf in die leë eiers.  Plak die gat van die eier dan weer toe met maskeerband.  Plak groot velle wit papier (A3 as dit kan) teen ‘n plak oppervlak (bv. ou stuk hout).  Die kinders gooi dan die eiers met die verf na die papier en maak hulle eie ‘Spat Kuns’.  Jy kan dit selfs raam na die tyd.  Die beginsel wat ons wil tuisbring by die kinders is dat daar iets baie mooi ‘gemaak’ word as die eiers breek (soos die resultaat van Jesus se dood).
    
Vertel ons van jou projek.

OP DIE SPYSKAART … 

Die inhoud van die eiers sorg natuurlik vir ‘n heerlike ‘brunch’ ete.  Die saam kuier en ‘werk’ maak mens honger en die eiergeregte daarna is altyd baie spesiaal.  Sien gerus die reseppie hier onder vir ‘n idee …

BESTANDDELE

12 repies spek
6 medium eiers
3 snye brood (enige soort)
½ koppie gesoute sampioene -of-6 snye tamatie (dun skywe)
sout en peper
tiemie, oregano of pietersielie (opsioneel)

INSTRUKSIES
Spuit of smeer ‘n muffinpan baie goed.
Maak die spek gedeeltelik gaar maar nie bros nie.
Dreineer op ‘n papierhanddoek  en laat effens afkoel.
Gebruik ‘n koekiesnyer of ‘n glas en sny sirkels ongeveer die grootte van die basis van die muffinpan.
Indien jy sampioene gebruik, braai dit ongeveer 5 minute oor medium hitte.
.
Plaas ‘n broodkring onder in elke muffin holte.
Voeg nou 2 snye spek los om die kante in elkeen. Oorvleuel as dit nodig is.
Plaas die gesnyde tamatie bo-op die broodkring.
Plaas ongeveer 1 eetlepel  van die sampioene bo-op die broodsirkel.
Voeg ‘n geklopte eier binne die spek-gevoerde holte bo-op die sampioene / tamatie.
Sprinkel sout, peper en ‘n knippie van enige kruie (of ‘n kombinasie van almal) bo-op elke eier.
Bak vir 15-20 minute totdat spek bros is maar nie brand nie.
Van:https://bakeatmidnite.com/bacon-and-egg-muffins/

LUISTER GERUS…

Daar is so baie liedere wat ‘n mens kan luister by hierdie geleentheid, maar hierdie lied se titel verklap iets wat ons met Jesus op hierdie dag in gemeen het – Broken Vessels.  Dis eintlik ‘n baie mooi verwerking van een van ons bekendste liedere..

 Broken Vessels (Amazing Grace) – Hillsong Worship

Hierdie lied dra die boodskap van die kruis net so kragtig oor…

Rend Collective – Nailed to the Cross