+27 720187921 piet@paconsult.co.za

DAG 6: Die “MAAK ALLES DONKER” uitdaging

INLEIDING

Vandag se kleur is SWART.  Hierdie is ‘n ‘donker’ dag in die laaste week van Jesus – alleen in ‘n toe graf… en nog veel meer.  So vandag moet SWART ons herinner aan hierdie ‘donker’ dag in Jesus se lewe.  Ons uitdaging aan jou is dat jy SWART so prominent as moontlik sal maak om jou, nie om depressief te raak nie, maar om die kontras met ‘lewe’ uit te beeld.

Dalk wil jy ‘n lamp of potplant toegooi met ‘n donker lap, of dalk gebruik jy net kerse in die aand om meer bewus te wees van die ‘donkerte’ rondom jou. (As jy gelukkig is help ESKOM jou dalk ook nog daarmee).

IN JESUS SE VOETSPORE …

Die een ding wat ons nog nie heeltemal verstaan nie (ek in elk geval nie), is hoe Hy wat God was, van God ‘verlate’ kon wees, of soos in die belydenis staan – ‘ter helle neergedaal het’?  En dis sekerlik waaroor hierdie dag ‘in die graf’ gaan.  Dis iets wat ek graag gespaar sal wil bly.  Die realiteit is dat ek dit eintlik verdien!  My gedrag, my keuses, my eiewilligheid en ongehoorsaamheid aan God waarmee ek elke dag stoei, maak dat dit juis my bestemming behoort te wees as ek doodgaan.  En dis hoekom Jesus hierdie ‘diep donkerte’ moes ervaar.  As ek dit reg verstaan, is ek die oorsaak daarvan.

Dood is iets waardeur ons almal moet gaan.  Dit wag vir jou, of jy daarvan hou of nie – en op ‘n dag soos hierdie is dit goed dat ons weer daaraan herinner word.

UITDAGING

Hier is 2 goed wat belangrik is om in gedagte te hou.

Dood is finaal!  Dit eindig dinge finaal af en beteken afskeid.  Niks kan jy saamvat nie.  En daarom vandag se uitdaging: As jy hieraan dink, watter ‘goeters’ of ‘stuff’ sal jy moeilik van afskeid neem, goed wat jou hele lewe al vir jou baie beteken het, of waaraan jy baie geheg geraak het?  Is daar dalk goed wat jy nou al van moet ontslae raak?

Maar, dis nie net ‘goed’ waarvan ons moet afskeid neem nie.  Hoe sal dit voel om finaal van die mense rondom jou afskeid te neem?  Met wie moet jy nog iets uitklaar of regmaak voor jy kan gaan?  Wie is daar wat jy nog voor moet sê hoeveel hulle vir jou beteken?  Toe Jesus aan die kruis gehang het, het Hy vir ‘n paar mense ‘n laaste paar woorde gehad voor Hy gesterf het – vir sy beste vriend, Johannes, vir sy ma, Maria en selfs vir die ou wat daar langs Hom gehang het aan die kruis.  Miskien moet ons, terwyl ons nog tyd het, vir die mense om ons dit sê wat ons weet gesê moet word.  Stuur sommer ‘n Whatsapp boodskap of maak ‘n oproep.

Die tweede deel van hierdie graf-ervaring wat my by bly as ek hieroor dink is die TOE graf!  ‘n TOE deur beteken gewoonlik dat jy nie meer daar kan in of uit gaan nie.  ‘You are stuck!’  Dit is nogal wat sonde in ‘n mens se lewe kan doen – dit kan jou laat vasval dat jy jou momentum verloor.  Waar staan jy tov goed in jou lewe wat jou laat vasval?

Ek besef hierdie is baie persoonlike goed wat nie regtig ‘gedeel’ kan word nie.  Maar miskien kan jy tog vir ons wys hoe jy ‘swart’ die kleur van die dag gemaak het.

Ons hoor graag van jou!

OP DIE SPYSKAART … 

Vandag se spyskaart het nie in die eerste plek te doen met wat OP die spyskaart is nie maar wat NIE op die spyskaart is nie.  Die uitdaging is vandag om ‘n ete te maak waarvan die kern deel van die gereg ontbreek.  Dit kan nogal ‘n uitdaging wees om dit reg te kry, en daarom sal dit goed wees om insette van ader mense te kry.  As hulle wil weet hoekom jy so ‘n ‘onsinnige’ ding wil doen, is dit natuurlik ‘n goeie geleentheid om oor die ‘swart dag’ se betekenis met hulle te gesels.

Hoe gaan dit nog met jou onderneming om van iets afstand te doen wat jy aan die begin van die week gedoen het?  Dis darem nie meer lank om uit te hou nie. Hierdie dag sal veral vir jou ‘n uitdaging wees.

 

VIR DIE JONGSPAN

Donkerkamertjie is ‘n speletjie, soortgelyk aan wegkruipertjie, wat in die donker huis (of vertrek) gespeel word.  Die kinders besluit vooraf waar daar weggekruip mag word en wie eerste “aan” is. Die kind wat “aan” is moet dan tot 20 tel voordat hy/sy na die ander kan begin soek.  Die speletjie kan handig te pas kom as die krag af is  (die ESKOM uitdaging).

Hier kan die speletjie gebruik word om kinders te help om hulle vrees vir die donker te oorkom.  Die feit dat Jesus belowe het dat Hy ons NOOIT alleen sal laat nie, selfs nie as dit donker is nie, is die waarheid waaraan ons wil hê ons kinders moet vashou.  Hy het ‘alleen-wees’ ervaar, dat ons nie daarvoor bang hoef te wees nie.

 

LUISTER GERUS…

Hierdie lied is in ‘n sekere sin ‘n ‘donker’ lied.  Dit gaan oor Jesus ‘Buried in the grave’.

All Sons & Daughters – Buried In The Grave