+27 720187921 piet@paconsult.co.za

DAG 7: Die “WAT ‘N VERRASSING” uitdaging

 

INLEIDING

Vandag se kleur is WIT!  Hierdie dag vorm ‘n skerp kontras met gister.  Die graf is oop, die groot klip wat hom afgeseël het is weg en die lig skyn in.  Al wat oor is, is die wit linne waarmee Jesus se liggaam toegedraai was.

Die WIT uitdaging vir hierdie dag is om die kontras tussen die rooi en swart van die vorige dae met die WIT van vandag uit te beeld.  ‘n Wit strik rondom jou rooi lap om die boom, ‘n helder wit lig wat skyn in die donker vertrekke van gister…  en miskien het jy iets WIT waarmee jy vandag kerk toe kan gaan.  Kyk uit vir ander mense met WIT, dan weet jy dadelik wie is mense wat deel was van hierdie uitdaging!  Vra gerus uit na hulle ervarings – ek is seker hulle het baie wat hulle sal wil vertel.

Vandag is die einde van jou ‘onthouding’ / ‘vas’ onderneming van die eerste dag.  Vier die beëindiging daarvan deur jouself te bederf met iets spesiaals.  Ons word vandag herinner dat Jesus eintlik die een is wat die oorwinning behaal het – en dit is waarin ons vreugde lê.

IN JESUS SE VOETSPORE …

Die uitstaande van die opstanding is die ‘verrassing’ van ‘n leë graf!  Niemand het dit verwag nie.  Nie alle mense hou van verrassings nie.  Sulkes hou daarvan om te weet wat hulle kan verwag en om hulle te kan voorberei daarvoor.  Dis nie asof Jesus nie probeer het om sy vriende en familie op hierdie gebeure voor te berei nie, maar steeds kon hulle dit nie voorsien nie.

UITDAGING

Die laaste van jou uitdagings van hierdie week is om iemand in jou lewe te verras!  Miskien die mense wat jy hierdie week mee saam deurleef het, miskien sommer net iemand wat dit nooit van jou sal verwag om op te daag vir ‘n besoek of dat jy vir hulle iets lekkers sal gee nie.

SAAM-WEES EN VIR DIE JONGSPAN

Ek wil graag hê dat jy jou eie inisiatief en kreatiwiteit moet gebruik, en daarom is hierdie uitdaging net ‘n voorstel.
Die tema vir die uitdaging is ‘verrassing’.  Vir hierdie rede kan paaseiers vir die kinders vroeg in die tuin weggesteek word wat hulle dan moet gaan soek.  Onthou net om te herinner aan die vroue en dissipels wat vroeg Sondag oggend vir Jesus ook in die tuin gaan soek het.  Hulle was nie so gelukkig nie.  Hulle het Hom nie gekry nie, maar dit was juis die verrassing!  Ons gaan soek iets wat ons dink NIE daar is nie, en dan kry ons dit!  Dis wat God met ons doen – Hy verras ons met sy seëninge.

Die tweede voorstel het te doen met iets wat ons as gesin ‘n vorige jaar gedoen het om hierdie ‘verrassing’-gedagte vorm te gee.  Ons het ‘n groot koek gebak (sommer in ‘n groot plat bak) en in blokke opgedeel.  Elkeen van ons het ‘n blok gekry wat ons moes versier (natuurlik weer met ‘n Paasfees tema).  Hierdie koek het ons toe by een van die behoeftige versorgingsoorde vir bejaardes gaan afgee wat dit as ‘poeding’ voorgesit het vir middgete. (Die waarheid is dat daar 2 koeke was – een het ons weggegee, maar die ander was ons s’n vir middag tee saam met kuiermense).

Hier is ons Paasfees verrassing-koek…

OP DIE SPYSKAART … 

Die opstanding van Jesus vra vir ‘n feesmaal.  Julle mag maar GROOT gaan vandag en Paasfees behoorlik vier!  Ons bestemming is nie die hel of ‘n donker graf waar alles eindig nie.

Ons bestemming is ‘n feesmaal saam met die OPGESTANE JESUS, waar Hy vir jou en my plek gemaak het.  Dis iets om te vier!

LUISTER GERUS…

Hier is ‘n paar liedere wat die krag en betekenis van die opstanding opnuut kom bevestig.

In Christ Alone – Kristian Stanfill

O Praise The Name – Hillsong Worship

This I believe – Hillsong

 

iets meer tradisioneels…

Christ the Lord is Risen Today – NCC Worship

 

BAIE DANKIE

Liewe Vriend & Vriendin

Baie dankie dat jy deelgeneem het aan hierdie uitdagings!

Ons hoop dat hierdie 7-Dag Uitdaging vir jou nuwe perspektief gegee het op wat Jesus vir JOU gedoen het, veral in die laaste dae voor sy opstanding.  Mag jy hierdie herinneringe die res van die jaar saam met jou dra.  Gee asb terugvoer oor hoe jy dit ervaar het.  Ons hoor graag van jou!

Liefdegroete

Die Coaching for Enrichment span